|
NATURE CONSERVATION
and its PARTNERSHIP WITH JACKALS
‘n Ramp. Dis hoe Wes-Kaapse boere die
skade beskryf wat hulle as gevolg van roofdiere ly.
Roofdiere vernietig tot dertig persent van hulle
diere.
Daar is boere wie se hele lammeroeste deur roofdiere
gedood is. Vier-en twintig boerdery-eenhede van een
landbouvereniging het in net een jaar 3730 lammers
as gevolg van roofdiere verloor. Teen R500 per lam
is dit ‘n verlies van R1 865 000.
Roofdiere dood ook beeste, wild en volstruiskuikens.
Hierdie probleem is nie tot die Wes-Kaap beperk nie
– dit strek regoor Suid-Afrika en Suidwes-Afrika.
Voorkomende maatreëls soos nekbande, klokkies en
anatoliese herdershonde werk net vir ‘n rukkie, dan
leer die jakkalse hoe om dit te omseil.
Skape met nekbande word nou lewend stuksgewys van
agter opgevreet. Koeie word van agter opgevreet
terwyl hulle kalf. Jakkalse jag al hoe meer in
troppe: party hou die anatoliese herdershond besig
terwyl ander agter sy rug onder die skape maai.
Boere het al donkies of alpakkas saam met skape laat
loop, al die skape snags in die kraal laat slaap,
skape selfs met diesel of petrol of urine laat
besmeer om die jakkalse te probeer weghou, maar niks
help nie. Die jakkalse dood skape en die enigste
manier om dit te verhoed is om die oorbevolking
jakkalse uit te roei.
Maar in hulle vernietigingsproses het die jakkalse
‘n gedugte bondgenoot: Wes-Kaapse Natuurbewaring of
CapeNature, soos hulle hulleself noem. Hulle sorg
dat die boer wat sy vee teen roofdiere beskerm,
strafregtelik vervolg kan word.
Volgens CapeNature se 2010-jagordonnansie, moet ‘n
boer elke drie maande ‘n permit bekom voordat hy sy
vee teen probleemdiere mag beskerm. Doen jy dit nie,
kan jy krimineel vervolg word en staan jy onder meer
‘n kans om jou vuurwapen en voertuig te verloor.
CapeNature roem daarop dat hy dié wetgewing toets
sodat dit uiteindelik regoor die land kan geld.
Almal weet reeds teen watter burokratiese teistering
jy stuit as jy enigiets uit hierdie staat probeer
kry, daarom beskou boere die probleemdierpermit en
jakkalsbeskerming as net nog ‘n hou wat die staat
teen die boer probeer inkry om hom van sy grond af
te dwing.
Ook teen die tweebeenjakkalse wat boere se skape
steel, doen die staat weinig, sodat diefstal talle
boere in groot gebiede al gedwing het om heeltemal
van skaapboerdery af te sien.
Die staat se jakkalsbeskerming benadeel nie net die
boer nie – dit benadeel ook elkeen wat graag ‘n
skaaptjoppie of -ribbetjie op die kole gooi.
Skaapvleis het byna onbetaalbaar duur geword. Dit is
die regstreekse gevolg van probleemdiere en diefstal
wat die boer se boerdery onlonend en die verbruiker
se verbruik onverkwiklik duur maak.
Dit is elke staat se plig om die landbou te
ondersteun en te bewaar. Hongersnood is immers ‘n
baie lelike ding. Maar in stede van sy plig te doen,
probeer die ANC-regering sake vir die boer so
onmoontlik as moontlik maak, soos ook met sy
jakkalsbeskerming wat aan aandadigheid grens.
Dit is tyd dat elke verbruiker ook toetree tot die
stryd om die boer teen die staat te beskerm sodat
ons voedselvoorsiening op ‘n volhoubare – en
bekostigbare – grondslag geplaas kan word.
http://www.ontowebmedia.com/rp2/Nuuskom20110207.html
|